Onlangse ekonomiese veranderinge en onverwagte skommelinge het ons siening van persoonlike finansies en die manier waarop ons ons fondse hanteer beduidend hervorm. Die ekonomiese klimaat vereis van ons om konstant ons finansiële gewoontes – van die versigtige bestuur van daaglikse uitgawes tot langtermyn-beleggingstrategieë – te hersien.
Een aspek waarop nie gelet word nie maar wat die potensiaal vir groot besparings inhou, is ons reis- en pendelgewoontes. Alles – van ons daaglikse rit werk toe en naweekuitstappies tot ons langverwagte vakansieplanne, elke myl wat afgelê word en elke liter brandstof wat verbruik word – beloop op die ou end ’n klomp geld. Jy sal verbaas wees oor hoe klein aanpassinkies in hierdie roetines oor tyd ’n aansienlike besparing kan meebring.
Namate ons by hierdie veranderende ekonomiese landskap aanpas, is dit nie net die moeite werd om ons vervoermiddels en reisgewoontes te hersien nie, maar is dit ook noodsaaklik. Daar is geweldige potensiaal vir besparing – ongeag of dit ’n saamryklub, die meer doeltreffende gebruik van openbare vervoer of bloot die beter organisering van ons take en uitstappies is.
Elke besluit wat ons neem – hoe ons werk toe gaan, wanneer ons reis, en watter vervoermiddel ons kies – kan groot gevolge vir ons finansiële gesondheid inhou. Dit gaan daaroor om bewuste besluite te neem wat nie net aan ons vervoerbehoeftes voldoen nie maar ook in ooreenstemming met ons finansiële doelwitte is. Dis tyd om te kyk hoe ons meer kostedoeltreffend kan pendel en sodoende hierdie roetine-aspek van ons lewens in ’n geleentheid vir besparing kan omskep.
Hier volg ’n paar wenke om jou te help om geld te bespaar terwyl jy steeds jou daaglikse ritte aflê.
Oorweeg dit om af te skaal
As een van jou voertuie selde gebruik word, veral as jy nou meer permanent van die huis af werk, kan die verkoop daarvan ‘’n nuttige kontanthupstoot wees. Die opbrengs kan nie net jou spaargeld aanvul of skuld betaal nie, maar jy sal ook op versekering en versiening bespaar en bykomende ruimte in jou oprit hê.
Monitor jou snelheidsmeter
Bestendige en redelike snelhede kan brandstofrendement verbeter. Indien jou voertuig ’n spoedreëlaar het, is dit ’n nuttige hulpmiddel om ’n egalige spoed te handhaaf. Jy kan ook brandstof bespaar deur nie skielik en skerp rem te trap nie. En omdat baie mense verskillende skedules volg, kan jy probeer om meer tyd vir jou rit toe te laat ten einde die stormloop te vermy en rustig te bestuur.
Hou jou bande opgepomp
Selfs al besoek jy die vulstasie minder, moenie van jou banddruk vergeet nie. Bande wat te pap is, verhoog padwrywing en het groter energieverbruik en vinniger slytasie tot gevolg. Deur gereeld jou bande by ’n plaaslike vulstasie te laat nagaan, kan jy verseker dat hulle nie vinnig verweer nie en kan jy ook op brandstof bespaar. Deur aandag aan jou bande te gee, sal jy ook onthou om hulle jaarliks om te ruil en op die uitkyk te wees na oneweredige slytasie, wat brandstofverbruik sal vermeerder en jou bandvervangingskoste sal verhoog.
Raak ontslae van gewig
Ekstra gewig is gelykstaande aan ekstra brandstof. As jy onnodige items, soos kamptoerusting of daardie kartondose van jou ouers se huis wat jy nog nie uitgepak het nie, orals met jou saamry, gebruik jy ekstra brandstof. Selfs ’n vol brandstoftenk weeg baie – maak dus jou tenk net halfvol as jou bestemming binne bereik is.
In hierdie onseker tye moet ons weer ons gewoontes en finansiële besluite hersien. Kom ons neem hierdie geleentheid om beter, meer ekonomiese gewoontes in elke aspek van ons lewens te bevorder, beginnende met ons pendel.