08 Mar 2022
Finansiële Beplanning vir Jou Ouers

Dis maklik om te dink dat ons met finansiële beplanning kennis maak wanneer ons vir die eerste keer met ons finansiële adviseur byeenkom, maar in werklikheid begin dit by die eerste keer wanneer ons kyk hoe die volwassenes om ons vir goed betaal.

Ons ouers en ander voogde het ons vroeë finansiële denke en keuses gevorm, van die tyd toe ons as pikkies in die tou by die betaalpunt gestaan het tot die tandemuis en ons weeklikse toelae. Namate ons verantwoordelike volwassenes word, bereik ons ouers ’n ouderdom waar dit ons beurt is om hulle met hul finansiële beplanning te help.

Statisties sal net 6% van alle Suid-Afrikaners finansieel onafhanklik aftree, wat beteken dat 94% van die bevolking hulle na die staat of familielede sal moet wend om hulle op hul oudag te onderhou. In die lig hiervan word gesonde finansiële beplanning vir bejaardes noodsaaklik om hierdie individue se lewensbestaan en regte opvolgerbeplanning te verseker.

Meera Naidoo, Hoof van Regsondersteuning by SanlamConnect Regsonderteuning, het onlangs ’n baie goeie artikel met ons span gedeel en kritieke oorwegings by finansiële beplanning uitgelig.

  • Maak seker jou ouers het ’n geakkrediteerde, betroubare finansiële adviseur en dat minstens een volwasse kind by vergaderings oor finansiële beplanning ingesluit word om al die ander op hoogte te hou en te verseker dat jou ouers se behoeftes reg verstaan en daarin voorsien word

  • Jou ouers se risikodekking en aftreebeplanning behoort minstens een keer per jaar hersien te word. Alhoewel risikodekking vir jou ouers dalk nie as ’n prioriteit beskou word nie, moet jou familie die impak van ’n ernstige siekte op hul lewensbestaan oorweeg, asook die boedeluitgawes wat aangegaan word wanneer hulle te sterwe kom.

  • Indien jou ouers aan ’n aftreefonds behoort, sal hulle by aftrede ’n verpligte annuïteit met minstens twee derdes van hul aftreevoordeel moet koop, mits die fondswaarde meer as R247 500 is. Vanaf 1 Maart 2021 is voorsorgfondse ook onderworpe aan annuïtisering, onderhewig aan die reëls en uitsonderings soos bepaal in die Wysigingswet op Belastingwette. ’n Lewende annuïteit of uittree-annuïteit sal oorweeg moet word, afhangende van jou ouers se behoeftes. Anders as ’n uittree-annuïteit bied ’n lewende annuïteit die buigsaamheid om die volgende te doen:

    • Hulle sal jaarliks hul inkomste kan bepaal en ’n minimum van 2.5% tot soveel as 17.5% van die kapitaal kan kies. Dit bied jou ouers die buigsaamheid om hul inkomste oor tyd volgens hul veranderende behoeftes aan te pas.

    • Met die buigsaamheid om die fondse te kies waarin die kapitaal belê word, kan hulle nog steeds hul belegde kapitaal laat groei

    • Hulle sal die opsie hê om ’n begunstigde te benoem wat dan die opsie sal hê om steeds die annuïteitsinkomste te ontvang (onderhewig aan hul eie marginale belastingkoers) of om die annuïteit in kontant om te sit (onderhewig aan belasting op ’n aftree-enkelbedrag in die hande van die oorledene)

  • Maak seker jou ouers het ’n geldige testament. Indien hulle ’n gesamentlike testament het, maak seker dat die oorlewende ouer by die dood van die eerssterwende ouer die gesamentlike testament hersien en ’n afskrif het of ’n nuwe testament opstel wat sy/haar testamentêre wense uiteensit.

  • Moedig jou ouers aan om ’n lêer saam te stel wat ’n afskrif van die testament, versekeringspolisse, alle beleggings- en bankrekeningbesonderhede, hul rekenmeester se besonderhede, mediese besonderhede, dokter se besonderhede en ’n lys van chroniese medikasie bevat wat gebruik kan word in geval van swak gesondheid en hospitalisasie

  • Die gebruik van internetbanksake moet aangemoedig word. Dit sal jou in staat stel om met betalings en die algehele bestuur van hul rekeninge en fondse te help en terselfdertyd administratiewe kwessies wat maklik aanlyn bestuur kan word, te identifiseer.

  • Jou ouers kan besluit om volmag aan jou te verleen om transaksies namens hulle aan te gaan wanneer hulle nie fisiek teenwoordig kan wees nie, byvoorbeeld in geval van siekte of immobiliteit. Wat jy egter in gedagte moet hou, is dat indien jou ouers verstandelik onbevoegd sou word, die volmag nietig sal wees en omdat jy dan nie meer namens hulle kan optree nie, enige toekomstige handelinge op bedrog sal neerkom.

Wat jou eie finansiële beplanning betref, moet jy onthou dat daar kragtens ons gemene reg ’n wedersydse onderhoudsplig tussen ouer en kind bestaan. Indien jy verwag dat jou ouers eendag finansieel van jou afhanklik kan word, is dit noodsaaklik om te verseker dat jy dit in ag neem wanneer jy jou eie finansiëlebeplanningsbehoeftes implementeer.

Ons besef dat dit alles baie oorweldigend kan wees en dis waarom ons daar is om jou daarmee te help. Jy is nie alleen nie, en jou ouers ook nie.