24 May 2024
Fokus op Wat Jy Kan Beheer

Hoeveel keer het jy jou al bekommer oor dinge waaroor jy geen beheer het nie? Hierdie algemene menslike ervaring kan ’n groot impak op veral die hantering van ons finansies hê, waar dit maklik is om deur markskommelinge en groepdruk beïnvloed te word. By Succession Financial Planning poog ons om die fokus van hierdie onbeheerbare elemente te verskuif na strategieë om langtermynperspektiewe en emosionele lewenskragtigheid te bevorder.

Belegging behels onsekerheid en risiko, wat ’n sterk emosionele reaksie kan ontlok. Twee van die mees algemene emosionele versperrings is afkeer van verlies en kuddementaliteit.

Afkeer van verlies, ’n term wat deur sielkundiges, Daniel Kahneman en Amos Tversky, geskep is, beskryf die neiging om te verkies om verliese te vermy eerder as om gelykwaardige winste te maak. Hierdie vrees kan aanleiding gee tot oordrewe konserwatiewe beleggingstrategieë of die onvermoë om die verlies van bates te aanvaar. Net so kan ’n kuddementaliteit – die neiging om die massa te volg eerder as om onafhanklike beleggingsbesluite te neem – dikwels tot gevolg hê dat markte op slegte tye betree of verlaat word.

Strategieë om emosies te beheer

  • Ontwikkel ’n persoonlike beleggingsfilosofie: Begin deur jou langtermynbeleggingsdoelwitte en hoeveel risiko jy bereid is om te aanvaar om hierdie doelwitte te bereik, te omskryf. Hierdie persoonlike beleggingsfilosofie sal as jou anker dien en jou help om tydens markskommelinge te volhard.

  • Aanvaar diversifikasie: Diversifikasie is meer as net ’n strategie; dis ’n filosofie op sigself wat help om risiko te verlig en die emosionele stres wat met die prestasie van enige enkele belegging verband hou, te verminder. Deur jou beleggings oor verskillende bateklasse heen te versprei, kan jy ’n buffer teen teleurstellings skep en jou portefeulje teen markskommelinge versterk.

  • Sistematiese belegging: Gereelde bydraes tot jou beleggingsportefeulje kan help om die angstigheid wat met tydsberekening van die mark verband hou, te beheer. Deur gereeld ’n vaste bedrag te belê, koop jy minder aandele wanneer pryse hoog is en meer wanneer pryse laag is. Dit verlaag potensieel die gemiddelde koste per aandeel oor tyd.

  • Bly ingelig, nie beïnvloed nie: Om op hoogte van marktendense en finansiële nuus te bly, is noodsaaklik. Maar dis ewe belangrik om by jou beleggingstrategie te hou. Moenie toelaat dat korttermynmarkbewegings jou langtermynbeleggingsbesluite beïnvloed nie.

Onthou, fokus op wat jy kan beheer. Dit sluit in die samestelling van ’n gediversifiseerde portefeulje, gereelde bydraes, en die periodieke hersiening van jou beleggingsplan om te verseker dat dit steeds in ooreenstemming met jou doelwitte is.

By Succession Financial Planning fokus ons op die ontwikkeling van ’n strategie wat jou persoonlike waardes en finansiële doelwitte weerspieël. Dit verseker dat elke besluit strategies én betekenisvol is om jou te help om ‘n finansiële nalatenskap te skep.

Belegging gaan ewe veel oor die beheer van jou emosies as oor die bestuur van jou geld. ’n Begrip van die algemene vrese en vooroordele wat besluitneming kan beïnvloed en die aanvaarding van strategieë om hierdie emosionele response te versag, kan jou vermoë om ’n langtermynperspektief te behou, verbeter.

Ons ervare en gekwalifiseerde finansiële adviseurs is daartoe verbind om jou deur die hoogte- en laagtepunte van belegging te lei, jou te help om op die elemente binne jou beheer te fokus, en jou uiteindelik te help om jou finansiële doelwitte te bereik.

Onthou, die weg na finansiële sekerheid is ’n marathon, nie ’n naelloop nie, en elke tree wat met kalm bewustheid en doelgerigtheid gegee word, bring jou nader aan jou doelwitte.