“Always give without remembering. Always receive without forgetting.” – Brian Tracy
Ons ervaar tye wanneer ons van stryk af is en daarop fokus om aan ander te gee en onsself af te skeep. Om te gee, stimuleer dieselfde senuweenetwerke in die brein as dié wat geaktiveer word wanneer ons ’n beskuitjie eet of ons koue hande onder warm water hou. Dis ’n diepgewortelde bevrediging wat ons voor, gedurende en ná die aksie laat goed voel.
Maar hoe voel ons wanneer ons “aan onsself gee”?
Ons sê selde dat ons “iets aan onsself skenk”. In plaas daarvan, sê ons gewoonlik dat ons dit self doen of koop. Alhoewel die handeling dieselfde kan wees, het dit nie meer die gevoel van bevrediging nie omdat ons dit anders stel. Die enigste verskil lê in die ingesteldheid.
Om iets aan jouself te gee, kan vir party mense selfsugtig klink, maar dis belangrik om aandag aan jouself te gee. En, wanneer jy meer aan jouself gee, het jy meer om aan ander te bied. Dit gaan daaroor om die vloeiwetenskap te volg – niks sal uitvloei as niks invloei nie.
Ons praat ook nie noodwendig van stoflike besittings nie – nie al hierdie geskenke kan toegedraai word nie. Hierdie ingesteldheid kan op verskeie ontasbare praktyke toegepas word en aanleiding gee tot ’n gevoel van dankbaarheid waar daar voorheen dalk teësinnigheid was. Hier volg ’n paar voorbeelde.
Doelwitstelling en die omskrywing van drome
Wat gee ons aan onsself wanneer ons doelwitte stel en ons drome omskryf? Om mee te begin laat ons nie die behoeftes van ander toe om ons dae te beheer nie. Ons ontwikkel ook ’n sterk gevoel van doelgerigtheid, iets om te bereik, selfwaarde en uiteindelik ’n gevoel van volvoering. Ons verdien dit, en daar is letterlik niks wat ons daarvan weerhou om iets aan onsself te skenk nie. Besluit wat jy akademies, persoonlik en professioneel wil bereik.
Vra om hulp
Ons het sopas ’n blog hieroor geskryf. Om om hulp te vra is ’n teken van sterkte. Beskou dit as die gee van die ondersteuning wat jy verdien. Jy sou nie van diegene rondom jou verwag om alleen die las van die wêreld op hul skouers te dra nie, en jy behoort dit ook nie te doen nie. Vra leiding indien jy oor iets onseker is – skenk ten minste dit aan jouself.
Verander dinge
Roetines help ons om op koers te bly. Dit gee ’n gevoel van sekuriteit en veiligheid. Die enigste nadeel is dat dit vervelend en afgesaag kan raak. Ons het afwisseling in ons lewe nodig. Gun jouself ’n avontuur. Verander die roete wat jy hardloop, voeg bloubessies by jou ontbyt, verken nuwe plekke, luister na nuwe musiek, leer ’n nuwe vaardigheid, bou ’n boekrak of kook ’n nuwe gereg. Jy sal later dankbaar wees daaroor.
En dis waarop dit op die ou end neerkom – om dankbaar te wees. Gedurende die tyd van die jaar wanneer ons voortdurend aangesê word om dankbaar teenoor ander te wees, moet ons nie vergeet om ook teenoor onsself dankbaar te wees nie.