Toe die meeste van die wêreld ingeperk is, het baie gesinne inkomste verloor. Inkomste wat hulle baie nodig het om huur te betaal, kruideniersware te koop, en skoolgeld en baie ander noodsaaklike maandelikse uitgawes te betaal.
Alhoewel inperkings en sosiale afstand ons daaraan herinner het dat ons gesondheid ons grootste bate is, het dit ons ook herinner dat ons vermoë om ’n inkomste te verdien een van ons ander belangrike bates is.
In die afgelope jaar het ons baie van ons kliënte gehelp om weer op hul voete te kom en van die finansiële druk van inperking te herstel, en dis belangrik dat ons ’n oomblik neem om inkomstebeskerming te bespreek.
Ons het dekking vir gevreesde siektes en mediese polisse om die finansiële druk van skielike, groot mediese rekeninge te verlig. Maar inkomstebeskerming dien ’n ander doel. Soos die ander polisse help dit ons om risiko te verminder en bied dit gemoedsrus, maar dit stel ons ook in staat om ná ’n traumatiese gebeurtenis die lewenstyl waaraan ons gewoond is, te handhaaf.
’n Inkomstebeskermingsplan is daarop gemik om jou inkomste met betroubare maandelikse paaiemente aan te vul wanneer jy as gevolg van siekte of besering nie kan werk nie. Die dekking word gegrond op ’n persentasie van jou huidige inkomste, gewoonlik tussen 50% en 75%.
Inkomstebeskerming kan voortduur tot aan die einde van die polistermyn, totdat jy herstel, by aftrede as jy nie permanent kan werk nie, of tot jy sterwe. Ongelukkig is dit nie net ’n kwessie van of jy inkomstebeskerming nodig het of nie. Inkomstebeskerming kan baie verskillende vorms aanneem en behoort deeglik oorweeg te word. Party polisse sal byvoorbeeld uitbetaal as jy weens siekte of besering nie jou bepaalde werk kan doen nie, terwyl ander uitbetaal sal word as jy nie werk van enige aard kan doen nie. Dis ’n geringe, maar uiters belangrike verskil.
Ons kan nie voorspel wanneer iets in die lewe verkeerd gaan loop nie. Maar ons weet dat ’n gebreekte been nie sal verhoed dat rekeninge inkom nie. Om die regte dekking in plek te hê, beteken dat daar ’n plan is om van ’n onverwagte finansiële impak te herstel. Dis belangrik om nie net te dink aan hoe jy finansieel oor die weg gaan kom as jy nie meer ’n salaris verdien nie, maar ook hoe dit by jou algehele finansiële strategie en risikoplan inpas.
Inkomstebeskerming maak dit vir jou moontlik om vir jou gesin se gewone lewensuitgawes te betaal en voort te gaan om in jou toekoms te belê deur vir jou kinders se opvoeding te betaal en vir aftrede te spaar.
As jy oor inkomstebeskermingversekering wil gesels, kontak ons.