In ons vorige bespreking van die pilare van finansiële sukses – Voorneme, Aksie, Oefening en Konsekwentheid – het ons die belangrikheid van die handhawing van vordering na ons doelwitte aangeroer.
’n Algemene struikelblok wat ons egter dikwels teëkom, is die gemak waarmee ons verskonings maak, veral wanneer die pad moeilik raak.
Hierdie blog, wat deur dr. Susan David se insigte in emosionele behendigheid geïnspireer is, delf dieper in die wêreld van verskonings. Ons kyk na hoe hierdie oënskynlik onskuldige verduidelikings ons subtiel kan verhinder om die veranderinge waarna ons streef, aan te bring, veral op die gebied van finansiële besluitneming.
Ons wil ook net reguit sê: dis moeilik om dit te verander. Nie een van ons kry dit altyd reg nie, maar dit help om ’n gesprek daaroor aan die gang te sit.
Die fyn kuns van verskonings maak
Ons prakseer dikwels verskonings vir ons optrede wat, alhoewel dit op die oog af geldig lyk, soms morfeer in verskonings wat ons ware bedoelings ondermyn. Dis noodsaaklik om te besef wanneer ons verskonings maak, veral dié wat in vermyding gewortel is. Byvoorbeeld, die uitstel van ’n belangrike finansiële vergadering of die vermyding van ’n gesprek oor skuld met ’n lewensmaat, kan simptome van dieper vermyding wees.
Identifisering van emosionele grondslae
Verskonings gaan dikwels gepaard met ongemaklike emosies soos angstigheid of skaamte. Hierdie emosies kan tekens wees wat ons daarop wys dat ons nie heeltemal eerlik met onsself is nie. Ons ongemak omdat ons ’n familiebyeenkoms misgeloop het of nie ’n finansiële sperdatum gehaal het nie, het meer te make met ons prioriteite as die eksterne faktore wat ons blameer. Die erkenning van hierdie emosies kan die eerste stap wees in die oplossing van die werklike kwessies.
Drie stappe om jou mag te herwin
Gee voorkeur aan waardes bo gemak: Wanneer optrede of passiwiteit gerasionaliseer word, is dit noodsaaklik om te vra, “Tree ek ooreenkomstig my waardes op, of vermy ek ongemak?” Dit is veral van toepassing by finansiële beplanning. Byvoorbeeld, die ongemak om boedelbeplanning te bespreek word dikwels oorskadu deur die waardes van sekuriteit en gesinswelsyn.
Dink verder as die huidige oomblik: Die verligting wat op kort termyn deur verskonings verskaf word, kan op lang termyn tot spyt lei. Ons moedig kliënte aan om te dink aan die impak wat hul huidige finansiële besluite op hul toekomstige self sal hê. Sal die vermyding van moeilike finansiële besluite nou tot spyt of swaarkry later lei?
Verander jou perspektief: Soms moet ons terugstaan van ons situasie om dit duideliker te kan sien. Stel jou voor dat jy ’n vriend in ’n soortgelyke finansiële situasie adviseer. Dit kan duidelikheid bring en help om die siklus van verskonings te verbreek.
Verskonings is ’n natuurlike deel van die menslike ervaring, maar as ons dit nie ondersoek nie, kan dit ons daarvan weerhou om ons persoonlike én finansiële lewe voluit te leef. Ons by Succession Financial Planning glo daaraan om hierdie verskonings trompop te konfronteer en jou na finansiële besluite te lei wat in ooreenstemming met jou diepste waardes en langtermyndoelwitte is.
Kom ons werk saam om nie net welvaart nie, maar ook ’n lewe van egtheid en doelgerigtheid te skep.