15 Sept 2023
Riglyne vir Positiewe Finansiële Denke

Of ons nou daarvan bewus is of nie, ons breine is gedurig aan die gang. Hierdie interne stem, ons selfgesprek, het ’n groot impak op ons persepsies, besluite en gedrag. Hierdie selfgesprek kan dikwels te krities wees en ons oor ons optrede en besluite laat twyfel, veral wanneer dit by ons finansiële gesondheid kom. Maar wat as ons hierdie interne dialoog meer ondersteunend en optimisties kan maak?

Om hierdie innerlike kritikus te verander, gaan nie daaroor om hom stil te maak nie – dit gaan oor die verandering van wat hy sê. In plaas van ’n skerp oordeel of onheilvoorspellings kan ons hierdie stem leer om meer objektief en begrypend te wees en op oplossings te fokus. ’n Noodsaaklike stap in dié verband is om nuttelose gedagtes met realistiese, positiewe alternatiewe te vervang.

Kognitiewe Gedragsterapie is ’n nuttige raamwerk vir hierdie geestelike verandering. Dit is gegrond op die aanname dat ons interpretasie van ’n situasie ’n beduidende invloed op ons emosies en gedrag het. Wanneer dit by finansiële beplanning kom, is die beginsel dieselfde. As ons byvoorbeeld ’n beleggingsverlies as ’n katastrofiese mislukking beskou, kan dit aanleiding gee tot ’n spiraal van negatiewe emosies en gedrag. As ons dit egter as ’n leergeleentheid beskou, kan dit lewenskragtigheid, wysheid en ’n proaktiewe reaksie bevorder.

Ethan Kross, ’n bekende sielkundige, gee ’n briljante ontleding van hierdie begrip in sy boek Chatter: The Voice in Our Head, Why It Matters, and How to Harness It. Hy herinner ons daaraan dat ons almal die mag het om ons innerlike kritikus in ’n interne afrigter te verander. Kross deel ’n gedagte wat ’n mens tot nadenke stem: “The mind is flexible, if we know how to bend it. If you have a fever, you can take something to bring it down. Likewise, our mind has a psychological immune system: We can use our thoughts to change our thoughts – by adding [healthy] distance.”

Dit bring ons by ’n eenvoudige dog belangrike vraag wat jy jouself kan vra wanneer jou innerlike kritikus jou finansiële besluite betwyfel: “Hoe realisties is my denke?” Deur die korrektheid van jou gedagtes te evalueer, kan jy bepaal of jy die ergste verwag, oorveralgemeen of oorhaastige gevolgtrekkings maak. As jy vind dat jou denke onrealisties of heeltemal verkeerd is, kan jy stappe doen om dit meer konstruktief te maak.

By Succession Financial Planning is ons daartoe verbind om ons kliënte op hul finansiële reis te ondersteun. Ons doel is om jou nie net met finansiële strategieë nie, maar ook met sielkundige hulpmiddels te bemagtig wat jou in staat stel om jou finansiële lewe met ’n positiewe, lewenskragtige ingesteldheid te bestuur.

Per slot van rekening is ons finansiële gesondheid onlosmaaklik verbind met ons geestelike welsyn, en ’n gebalanseerde benadering is die sleutel tot langtermynsukses.