“What I want in my life is compassion, a flow between myself and others based on a mutual giving from the heart.” – Marshall B. Rosenberg
Jy’s nie swak of lui nie – almal het hulp nodig. Ons floreer wanneer ons saamwerk en ons sterkpunte met ander kan deel terwyl ander die gapings met hul sterkpunte vul.
Ons het onlangs ’n verhaal gehoor van ’n ma wat haar dogter by die skool gaan oplaai het. Die daaropvolgende gesprek het min of meer so geklink:
Toe ek onlangs een middag my sewejarige dogtertjie by die skool gaan oplaai het, het sy, voordat sy selfs hallo gesê het, haar waterbottel aan my gegee en gevra: ‘Mamma, kan jy dit vir my oopmaak? Dis te styf toe.’ Ek wou weet of sy ooit die dag enige water gehad het, en sy’t net haar kop geskud. Sy’t ’n groot sluk geneem en ek het my voorgestel hoe dors sy die hele dag moes gewees het.
Hoekom het sy nie net haar vriendelike en deernisvolle onderwyseres gevra om haar te help om die bottel oop te maak nie? Ek het my dogter gevra en haar antwoord was dat sy daaraan gedink het, ‘Maar ek wou nie hê sy moes weet ek was te swak om dit self oop te maak nie. En sy was besig.’
Ons sien hierdie patroon dikwels, nie net in kinders nie, maar ook in ons span en kliënte. Ongeag of dit ’n bestuurder is wat dit moeilik vind om werknemers te vra om projekte op hulle te neem, iemand met ’n mediese toestand wat hulp met daaglikse take nodig het, of ’n werkende ouer wat meer ondersteuning nodig het, mense uit alle sektore van die samelewing kan sukkel om hulp te vra.
Dis vir ons baie maklik om ons behoeftes as ’n las vir ander te beskou: “Ek wil nie van ons vriendskap misbruik maak nie”… “Hulle het reeds genoeg hooi op hulle vurk”… “Ek kan dit hanteer.” Ons lewe in woonbuurte waar huise agter mure van meer as net baksteen, beton en hout weggesteek is; ons maatskaplike skeidsmure is mure wat ons kan beskerm, maar ook ongesond kan isoleer.
Ons voer gesprekke met onsself waar ons namens die ander persoon aanneem dat hulle ons nie kan help nie, en ons ontsê hulle die geleentheid om in ons behoeftes te help voorsien.
Tog is gee, ontvang en ondersteuning van mekaar ’n fundamentele en wonderlike natuurlike impuls (dink maar aan die laaste keer toe jy ’n vriend gehelp het – dit het goed gevoel, nie waar nie?). Ons oorlewing as ’n spesie is gewortel in ons onderlinge afhanklikheid, nie ons onafhanklikheid nie.
As jy sukkel om hulp te vra, kyk na jou aannames oor die vra van hulp. Het jy negatiewe assosiasies, kritiese gesprekke met jouself, bekommernisse oor hoe ander jou sal sien, of selfopofferende oortuigings? Dis alles dinge wat ons onsself vertel, en dis ongesond. Die oorkoming van hierdie beperkende oortuigings begin met ons besluit om hulp te vra, die regte mense te kies en dan wel hulp te vra alhoewel ons ongemaklik voel. Om te wag tot dit makliker is of tot die lewe eenvoudiger is, is nutteloos want dit sal waarskynlik nooit gebeur nie.
As jy vandag met iemand oor hulp wil gesels, oorweeg asseblief iemand in ons SFP-span. Alhoewel ons in finansiële beplanning spesialiseer, weet ons dat daar ’n verband tussen die lewe en geld is, en ons kan nie aan een werk sonder om aan die ander te werk nie. Ons is hier vir jou.